MEER OOR ONS 

REPLIKA is 'n uiteenlopende span doodgewone mense in die Standerton omgewing, op die Mpumalanga Hoëveld, wat 'n nuwe Model vir lewe ontdek het! Inteendeel: ons het die rede ontdek hóékom ons lewe!!! Dit het elkeen van ons Spanlede se doodgewone bestaan verander en verryk tot ’n buitengewone nuwe manier van lewe — ’n ervaring wat jy eintlik ook nie wil misloop nie!  

 

Die mense by REPLIKA streef daarna om voluit-volgelinge van die Here Jesus Christus te wees. Saam vorm ons 'n Geloofsgemeenskap met 'n passie vir die lewe, vir die Here, vir ons gemeenskap en die wêreld. En ons is sinvol anders...

 

By REPLiKA is ons Gemeente anders as dit waaraan jy dalk gewoont is as jy aan "kerk" dink. Ons wil mense doelbewus voorstel aan 'n beter alternatief as 'n dooie godsdiens en irrelevante aanbiddings-rituele. Dit gaan immers nie by REPLiKA oor godsdiens nie, maar oor lewe! En ons sal die geheim vir 'n sinvolle, bevredigende lewe graag met jou wil deel.

 

Ons is intensioneel om as 'n replika van 'n Nuwe Testamentiese Gemeente te ontwikkel: Derhalwe is die Sondag-samekomste se atmosfeer vriendelik, informeel, stemmig. Die musiek is eietyds, professioneel, sinvol. Die mense is alles behalwe volmaak... maar eg! Die boodskappe is relevant, aktueel, bemoedigend. Die fokus is: op God die Vader wat 'n unieke plan met elkeen se lewe het; op die Here Jesus Christus wat elkeen oneindig liefhet, en die Heilige Gees wat elkeen wil bystaan om voluit te kan lewe.

 

En elke dag is ons doelgerig om te groei en onsself só aan die Here te bied, dat Hy ons kan vorm en herstel om 'n replika van Sy Seun se karakter en denke en reaksies te kan wees. Nie dat ons dit al ten volle bereik het nie. Maar niks is so bevredigend as om te ervaar dat ons meer en meer 'n replika word van die bloudruk wat God vir elkeen van ons het.

 

As jy in Standerton of omgewing woon, het jy heel waarskynlik al van hierdie unieke Gemeente gehoor. Moontlik het dit tyd geword dat jy meer omtrent ons uitvind... ons wéét jy sal aangenaam verras wees! Dit sal vir ons ’n spesiale voorreg wees as jy ons besoek en ons vertrou dat jy sal tuis voel en die tyd saam met ons baie sinvol en opbouend sal beleef.


As jy ’n lidmaat van ’n ander Gemeente is wat by ons kom kuier, verwelkom ons jou as ’n baie spesiale gas! Ons vertroue dat jou besoek aan REPLiKA jou sal inspireer om met groter ywer en inspirasie 'n verskil in jou tuis-Gemeente te gaan maak!

 

Ons uitdaging is: word Sy replika! Kom deel in die Avontuur!!!

 

Sien gerus die skakels op die linkerkant, en ontdek nog meer van ons...